Artikel

Vrystaatse onderwysdepartement weerhou geld aan skole, maar waarsku skole om rekeninge te vereffen

09/02/2016 - Fedsas


Vrystaatse onderwysdepartement weerhou geld aan skole, maar waarsku skole om rekeninge te vereffen
 
Die Vrystaatse onderwysdepartement het skole in die Oos-Vrystaat gewaarsku om dadelik hul munisipale rekeninge te vereffen om die opskorting van dienste te voorkom. Skole het egter nie geld hiervoor nie omdat die einste departement nog nie verlede jaar se oordragbetalings aan die skole gedoen het nie.

“Die departement se optrede is nie net arrogant nie, maar onregmatig,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Provinsiale onderwysdepartemente is wetlik verplig om jaarliks op 15 Mei en 15 November oodragbetalings aan skole te doen. Hierdie geld stel skole in staat om bedryfskoste, waaronder elektrisiteits- en watervoorsiening, te betaal.
         
“FEDSAS het reeds met regsaksie begin om die Vrystaatse onderwysdepartement te dwing om die oordragbetalings van 15 November verlede jaar te doen. Intussen dreig die departement skole nou om rekeninge te vereffen met geld wat die departement weier om aan skole te betaal!”
         
Deacon sê sulke voorvalle dui op gebrekkige bestuur in die Vrystaatse onderwysdepartement. “Dit lyk asof die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie – en soos gewoonlik is skole, en veral kinders, die slagoffers.”
 
FEDSAS gaan voort met regsaksie om die departement te dwing om die uitstaande oordragbetalings aan skole te doen. “Die departement se nalatigheid met die oorbetalings skep ’n sneeubal-effek wat tot een probleem op die ander vir skole lei. Dit ondermyn gehalte-onderrig, wat uiteindelik die hele skoolstelsel benadeel.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid