Artikel

FEDSAS se toekomsvisie ‘profeties’, sê uitvoerende hoof op algemene jaarvergadering

24/11/2020 - Fedsas


Om FEDSAS se strategiese doelwitte vir 2020 rondom tegnologie te bou, was as’t ware profeties. Die organisasie het aan die begin van die jaar ? doelwit gestel om die belangrikste innoveerder te wees wat maksimum waarde benut van beskikbare tegnologie vir interne- en bedryfsbehoeftes, om lede te bedien en lidskole te lei met betrekking tot die impak van tegnologie op onderwys.
           
“Toe daar vroeg in 2020 dringend na ? nuwe onderrigmodel gekyk moes word weens die effek van die Covid-19-pandemie, was FEDSAS goed geposisioneer om insette te lewer en werksaamhede virtueel voort te sit,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Colditz het gepraat op FEDSAS se algemene jaarvergadering, wat die afgelope naweek (21 November 2020) virtueel plaasgevind het. Met inisiatiewe soos die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie het die organisasie reeds die afgelope ses jaar begin om voorbrand te maak vir digitale burgerskap in die skoolomgewing.
           
“FEDSAS het reeds teen einde Maart ? skrywe aan lede gestuur om hulle aan te moedig om slegs op hul kernbesigheid te fokus en alles in hul vermoë te doen om noodsaaklike hulpbronne te beskerm,” sê dr. Jaco Deacon, FEDSAS se adjunkhoof. Deacon, wat die geïntegreerde jaarverslag aan die vergadering voorgelê het, sê ten spyte van die Covid-19-pandemie is FEDSAS se opleidingstatistiek vir 2020 ? hoogtepunt. “FEDSAS kon onmiddellik oorskakel na aanlyn-ondersteuning vir lede en het tot dusver 149 nasionale webinare aangebied wat deur bykans 12000 persone bygewoon is.”
           
FEDSAS se regspan het vanjaar reeds 263 dokumente, regsmenings en ander hulpbronne ontwikkel. “Hiervan is 196 Covid-19-verwante dokumente wat op ? spesiale afdeling van FEDSAS se webtuiste aangebring is. FEDSAS se voortdurende interaksie met die departement van basiese onderwys is ook duidelik uit die 48 vergaderings tussen die organisasie en die departement,” sê Deacon.
           
Tydens die vergadering het FEDSAS afskeid geneem van die nasionale voorsitter, Erhard Wolf, wat na voorsitterskap van 11 jaar uitgetree het. Wolf het in sy afskeidsboodskap gesê dat die pandemie gewys het dat die departement van basiese onderwys FEDSAS nodig het. FEDSAS se effektiwiteit as beheerliggaamorganisasie is deur die gebeure en die organisasie se reaksie daarop beklemtoon.

“Om afskeid te neem van iemand van die kaliber van Erhard Wolf is nie maklik nie. Vir hom was FEDSAS sy lewe en nie net sy werkplek nie,” sê Colditz.

Dr. Shaun Mellors, huidige provinsiale voorsitter in Limpopo, is tydens die vergadering as die nuwe nasionale voorsitter aangewys. Jaco van der Merwe van KwaZulu-Natal is as ondervoorsitter verkies.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid