Artikel

FEDSAS vergader môre met Gauteng-onderwysdepartement om kwessies rondom plasing van leerders te bespreek

16/09/2019 - Fedsas


Skole wat probleme ondervind met die aanlyn-aansoekplatform van die Gauteng-onderwysdepartement moet dringend met die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se kantoor in dié provinsie in verbinding tree.

“FEDSAS vergader môre (17 September 2019) met amptenare van die departement om spesifieke kwessies met plasings te bespreek. FEDSAS-lede en selfs skole wat nog nie lid van die organisasie is nie, moet so gou moontlik probleme met betrekking tot aansoeke en plasings onder FEDSAS se aandag bring,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.
     
Die Gauteng-onderwysdepartement se aanlyn-aansoekplatform is vroeër vanjaar bekend gestel as die enigste wyse waarop ouers kan aansoek doen vir plasings in skole vir volgende jaar. FEDSAS was deurentyd betrokke met die toetsing van die stelsel en om stelselprobleme onder die departement se aandag te bring. Ouers en skole sou aanvanklik teen einde Augustus gehoor het waar hul kinders plek gekry het, maar die departement het die datum uitgestel tot 18 September 2019.
     
“Dit is FEDSAS se ervaring dat amptenare van die departement gewillig is om kwessies aan te spreek. Juis daarom is dit so belangrik dat ons lede spesifieke probleme onder FEDSAS se aandag bring sodat dit op gepaste wyse opgelos kan word,” sê Colditz. Hy sê FEDSAS is dankbaar vir die samewerking met die departement. “Die direkte samewerking tussen FEDSAS en die departement het daartoe gelei dat die proses van aanlyn-aansoeke met goeie oorlegpleging bestuur kon word om sodoende probleme so spoedig moontlik aan te spreek.”
 
Colditz sê samewerking tussen rolspelers is die beste benadering tot onderwysbestuur. “FEDSAS hoop dat dit die grondslag sal lê vir langtermyn-samewerking tussen die organisasie en die departement ten einde gehalte-onderrig te verseker.”
 
*Skole wat kwessies rondom die plasing van leerders in Gauteng onder FEDSAS se aandag wil bring, kan mnr. Riaan van der Bergh, adjunk- provinsiale bestuurder in Gauteng, kontak by 082 490 5790.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid