Artikel

FEDSAS versoek Gauteng-onderwysdepartement om dringend op te tree om probleme met e-platform vir skoolaansoeke op te los

07/05/2019 - Fedsas


Tegniese probleme met die e-platform wat in Gauteng gebruik word vir aansoeke om toelating tot skole kan moontlik ’n impak hê op inskrywings vir volgende jaar.
           
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) was deel van ’n toetslopie om die e-platform te toets. “Dit het tydens die toetslopie aan die lig gekom dat die struktuur en funksionering van die platform nie strook met die bepalings van onder meer die Skolewet nie. Dit is veral rondom die voedersones van skole waar daar tegniese probleme is wat byvoorbeeld veroorsaak dat skole in ’n aansoeker se onmiddellike omgewing nie volledig gelys word nie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.
 
Deacon sê FEDSAS het reeds met die departement hieroor in verbinding getree. “FEDSAS het die departement versoek om vandag (7 Mei 2019) terugvoer te gee oor die probleme en om oplossings te gee. Nog ’n toetslopie is noodsaaklik voordat die e-platform op 13 Mei oopgestel word vir ouers om aansoek te doen. Aangesien die e-platform die enigste wyse is waarop ouers in Gauteng aansoek om toelating kan doen, is dit uiters belangrik dat die platform korrek funksioneer en dat dit uitvoering gee aan die bepalings van wetgewing en regulasies.”
           
Deacon sê indien die probleme nie betyds opgelos word nie, sal FEDSAS die departement versoek om die oopstel van aansoeke met een week uit te stel. FEDSAS het intussen sy lede versoek om ouers in te lig oor die stand van sake om sodoende bewustheid te skep rondom moontlike probleme. “Hierdie kwessie raak alle ouers wat hul kinders in skole in Gauteng wil inskryf vir volgende jaar. Die samestelling en aanbied van keuses is in sommige gevalle heeltemal onprakties en in ander gevalle bloot nie gebruikersvriendelik nie.”
           
FEDSAS moedig belanghebbendes ook aan om sy webblad by www.fedsas.org.za te besoek vir ’n inligtingstuk en ander dokumentasie wat ouers kan gebruik om beswaar aan te teken sou aansoeke onsuksesvol wees as gevolg van tegniese probleme met die e-platform.
           
“Vir FEDSAS is die beste belang van die kinders die eerste en enigste oorweging. Die organisasie se kundigheid rakende die bepalings van wetgewing is tot die departement se beskikking. Terselfdertyd is dit ook ons plig om beheerliggame en ouers op hoogte van sake te hou en om dit vir hulle moontlik te maak om gevalle waar aansoekprosedures om welke rede ook al nie gevolg is nie, onder besluitnemers se aandag te bring.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid