Artikel

FEDSAS reageer op hofuitspraak oor herskryf van twee matriekvraestelle

11/12/2020 - Fedsas


Alle oë is nou op die eksamenowerheid Umalusi, wat in Februarie volgende jaar die uitslae van die afgelope matriekeindeksamen moet sertifiseer as geloofwaardig. Dit volg nadat regter Norman Davis vandag in die Gautengse hooggeregshof beslis het dat die besluit om twee eksamenvraestelle oor te skryf, ter syde gestel moet word. Die Minister van Basiese Onderwys het vroeër aangekondig dat twee vraestelle oorgeskryf moet word nadat die oorspronklike vraestelle uitgelek het.
           
“Ons glo die uitspraak bring groot verligting vir matriekleerders en ouers wat tot op die nippertjie moes wag vir duidelikheid. FEDSAS het uit die staanspoor deernis gehad met die derduisende matrieks wat op eerlike wyse aan die twee oorspronklike eksamens deelgeneem het,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
           
Deacon sê FEDSAS se prioriteit is om gehalte-onderwys toeganklik te maak vir alle leerders. “Dit begin op die eerste dag van ‘n leerder se skoolloopbaan en eindig die dag wanneer daardie leerder met ‘n Nasionale Senior Sertifikaat die skoolstelsel verlaat. Vir die Suid-Afrikaanse samelewing, of dit nou tersiêre instellings is of potensiële werkgewers, om waarde te heg aan daardie matrieksertifikaat is dit natuurlik belangrik dat die proses bo verdenking is.”
           
Deacon sê FEDSAS sal die uitspraak bestudeer om seker te maak dat die integriteit van die eksamen en die waarde van die Nasionale Senior Sertifikaat nie onder verdenking gaan wees nie. Terwyl FEDSAS die oppergesag van die reg erken, is dit natuurlik ook belangrik om in gedagte te hou dat openbare persepsie nie noodwendig deur hofuitsprake beïnvloed word nie.
           
“Ons steun ook regter Davis se mening dat onderwys die deur tot ons kinders se toekoms is en dat daardie deur bewaak moet word deur hekwagters wat die beste belang van leerders bo alles stel. FEDSAS sal dus voortgaan om leiding en ondersteuning te bied om seker te maak dat gehalte-onderwys bevorder word.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid