Artikel

FEDSAS verskaf toegang tot virtuele markplein om skole te help om finansiële uitdagings te oorkom

19/01/2016 - Fedsas


Een van die belangrikste aspekte van die bestuur van ’n skool is goeie korporatiewe beheer. Skoolbeheerliggame is verantwoordelik vir die finansiële bestuur van ’n skool, wat die aankoop van ’n verskeidenheid produkte insluit. In die huidige ekonomiese klimaat is dit egter ’n uitdaging. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) sê sy 2014-omgewingsanalise het aangedui dat ’n gebrek aan fondse, asook die bestuur van beskikbare fondse van die grootste uitdagings vir skoolbeheerliggame is. Skole op die platteland is boonop dikwels aangewese op beskikbare verskaffers ongeag die gehalte van die dienste of produkte.

In ’n poging om hierdie uitdagings aan te spreek en om skoolbeheerliggame, onderwysers en ouers in staat te stel om die beste moontlike besluite te neem wanneer skoolvoorraade aangeskaf word, het FEDSAS saamgespan met SchoolAdvisor.

“FEDSAS is die leier in skoolbestuur en die organisasie streef daarna om aan die voorpunt te wees van stelsels en tegnologie wat die lewe vir sy lede, sowel as die groter skoolgemeenskap makliker kan maak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.

“SchoolAdvisor is ’n wêreld-eerste vir skole. Dit is ’n virtuele markplein vir skole waar jy voorraade kan vergelyk, aankoop, bespreek en beoordeel. Dit is nie ’n produk nie, maar eerder ’n plek waar produkte vergelyk kan word. Op dié manier kan jy sien wat ander skole se ervaring van ’n produk of diens is en dan jou besluit baseer op betroubare raad van verbruikers wat dieselfde behoeftes as jy het,” verduidelik die uitvoerende hoof van SchoolAdvisor, Peter Morgan.

Die basiese doelwit van SchoolAdvisor is om skole en verskaffers met mekaar te verbind. Dit stel verskaffers in staat om vas te stel wat skole benodig en hul produkte en dienste daarvolgens aan te pas of te verbeter. Morgan verduidelik dat die webtuiste ’n omvattende reeks produkte en dienste van ’n verskeidenheid verskaffers bied. “Tans verskaf die webtuiste toegang tot meer as 500 verskaffers. Hierdie getal groei daagliks soos wat meer verskaffers aansluit. Skole het ook reeds toegang tot meer as 250 resensies van beskikbare produkte en dienste,” sê Morgan.

“Skole benodig ’n uiteenlopende reeks produkte en dienste om te funksioneer – enige iets van skryfbehoeftes en klere tot sporttoerusting, onderhoud aan geboue en vlootbestuur. Om dit alles te bestuur kan ’n uitdaging wees. FEDSAS lei en rus skoolbeheerliggame van openbare skole toe om seker te maak dat skoolbestuur professioneel en volgens aanvaarbare norme en standaarde geskied. SchoolAdvisor is een van die dienste wat hierdie taak vergemaklik,” sê Deacon.

Skole word aangemoedig om www.schooladvisor.co.za te besoek vir ’n bekendstelling aan die platform. “As bykomende aanmoediging het ons tans ’n kompetisie om die diens aan die skoolgemeenskap bekend te stel. ’n Mauritius-vakansie is op die spel – altyd ’n welkome beloning vir enige iemand betrokke by die uitdagende veld van onderwys,” sê Morgan.

Bykomende inligting is ook beskikbaar op die FEDSAS-webtuiste by www.fedsas.org.za

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid