Artikel

FEDSAS bied beraad aan vir leerders wat op skoolbeheerliggame dien

25/02/2016 - Fedsas


Sowat 80 leerders van skole uit voorheen benadeelde gebiede en verarmde omgewings in die Wes-Kaap woon Saterdag (27 Februarie 2016) die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se leerderberaad in Kaapstad by. Dié leerders dien almal as lede van skoolbeheerliggame.

“Die Skolewet bepaal dat ’n skoolbeheerliggaam ook leerderverteenwoordiging moet hê. Die doel van die beraad is om hierdie leerders bewus te maak van hul rol en funksie as lede van die beheerliggaam, maar ook breër in terme van die leierskapsrol wat hulle in die skool vertolk,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê hoewel die meeste van die 40 skole wat na die beraad genooi is, FEDSAS-lede is, is talle nie-lede ook genooi. “Die belangstelling was oorweldigend. Hoewel ons nie al die belangstellende skole kan akkomomdeer nie, is dit ’n aanduiding van die behoefte wat daar vir sulke opleiding bestaan,” sê Deacon.

Die aanbieder is die innoverende leierskapskenner Manie Botha. Botha is veral bekend vir sy werk met hoërskoolleerders en jong mense. “Manie het ’n unieke vermoë om ingewikkelde konsepte en abstrakte idees verstaanbaar te maak op ’n wyse wat aanklank vind by jonger mense. Hy is dus die ideale persoon om hierdie jong beheerliggaamlede te help om te verstaan wat van hulle verwag word en om hulle terselfdertyd te inspireer om die taak met ywer aan te pak,” sê Deacon.

Anders sprekers sluit in Paul Colditz, FEDSAS se uitvoerende hoof, Cheryl Allen van die Wes-Kaapse Onderwysdepartment, asook die skrywer Heindrich Wyngaard. Die sangeres Nadine Blom sal die leerders vermaak.

Die beraad vind in die Raadsaal van die Stad Kaapstad plaas, met die Stad Kaapstad wat ook as borg optree. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid