Artikel

FEDSAS doen baanbrekerswerk met King III-handleiding vir skole

12/02/2016 - Fedsas


Skoolbeheer en die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het pas ’n reuse-hupstoot gekry met die publikasie van ’n handleiding wat die King-beginsels vir goeie korporatiewe beheer vir openbare skole toeganklik maak. Beheer in openbare skole – ’n Handleiding oor die toepassing van die King-beginsels in openbare skole is die verwesenliking van ’n jarelange droom van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (FEDSAS).
         
Die King III-verslag, die derde weergawe van die King-komitee se beginsels waarop goeie korporatiewe bestuur en etiese leierskap berus, word internasionaal gereken as een van die voorste bestuurskodes ter wêreld. Dit word ontwikkel en gepubliseer deur en behoort aan die Institute of Directors of Southern Africa (IoDSA).
         
“Sedert King III in 2009 bekend gestel is, het FEDSAS gedroom van ’n handleiding vir skoolbeheerliggame wat hierdie beginsels vervat. Ons wou die King-beginsels en skole nader aan mekaar bring,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Colditz sê FEDSAS het in die King-beginsels ’n oplossing gesien vir van die grootste uitdagings vir skoolbeheer, naamlik ’n gebrek aan etiese leierskap en goeie en universeel aanvaarde standaarde van beheer. “Onvoldoende beheer- en bestuurspraktyke is dikwels die onderskeid tussen wanfunksionerende en suksesvolle skole,” sê Colditz.
         
Ten einde die droom te verwesenlik, het FEDSAS die IoDSA genader om saam te werk aan die publikasie van só ’n gids. Die uitvoerende hoof van die FEDSAS Instituut vir Skoolbeheer, dr. Derek Swemmer, was aan die stuur van dié projek om ’n verstaanbare en praktiese handleiding gebaseer op die King-beginsels vir lede van skoolbeheerliggame saam te stel. Die projek geniet ook die steun van die Departement van Basiese Onderwys. Die handleiding stel skoolbeheerliggame in staat om nie net te voldoen aan die bepalings van die Skolewet nie, maar ook aan die King-beginsels. Dit skep die geleentheid vir goeie skole om uitstekende skole te word.

Die uitdagings waarmee skoolbeheerliggame worstel, is nie uniek tot die onderwys nie. Hoewel Suid-Afrika een van die beste bestuurskodes ter wêreld het, is die toepassing daarvan nie altyd na wense nie. “Daar is sowat 300 000 lede van skoolbeheerliggame in Suid-Afrika. Dink net watter impak dit op die Suid-Afrikaanse samelewing sal hê wanneer soveel mense blootgestel word aan die wêreld se voorste praktyke in beheer, bestuur en leierskap. Dit strek verder as net onderwys – ons het nou die geleentheid om die leiers van die toekoms te ontwikkel om sodoende ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika te kan speel,” sê Colditz.

Die handleiding is deel van FEDSAS se verbintenis tot positiewe burgerskap. “Omdat ons op ’n daaglikse grondslag met die toekoms van ons kinders, en gevolglik die toekoms van die land, gemoeid is, is almal by FEDSAS deeglik bewus van die potensiaal wat daar is. Vir skole om hierdie potensiaal te ontsluit, is goeie leierskap ononderhandelbaar. FEDSAS is opgewonde oor die toekoms van Suid-Afrika en hierdie handleiding is die organisasie se manier om die daad by die woord te voeg,” sê Colditz.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid