Artikel

Meer as R3 miljoen se boeke vir FEDSAS se mobiele biblioteke!

23/06/2016 - Fedsas


 
Groot leesvreugde lê voor vir honderde laerskoolleerders op die Kaapse Vlakte met ’n onlangse skenking van meer as R3 miljoen se boeke deur NB-Uitgewers. Die skenking is gemaak aan die mobiele biblioteke wat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) einde verlede jaar aan drie laerskole op die Kaapse Vlakte geskenk het. Dié projek is ’n inisatief van FEDSAS, in samewerking met Quali Books en die sangeres Nedine Blom.

            “Projekte soos hierdie het die steun van groot uitgewersmaatskappye nodig. Daarom beskou ons hierdie reuse-skenking van NB-Uitgewers nie net as ’n belegging in die projek nie, maar in die toekoms van hierdie kinders,” sê mnr. Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT) in die Wes-Kaap. SAOOT is ’n inisiatief van FEDSAS.  Skole wat wel nog oor skoolbiblioteke beskik, sukkel dikwels om die boekvoorraad op datum te hou weens die koste daaraan verbonde. Die mobiele biblioteke bestaan uit ’n kabinet waarin die boeke van klaskamer tot klaskamer verskuif kan word. Dit vergemaklik dus ook beheer oor die boekvoorraad en bied ’n waardevolle hulpmiddel aan onderwysers.
 
FOTO: By die oorhandiging van die boekskenking was, van links na regs, mnr. Johannes Bell (bestuurder van die NB-Pakhuis), sangeres Nedine Blom (ambassadeur van die projek), mnr. Danie van Wyk (bestuurder van SAOOT), me. Michelle Cooper (verteenwoordiger van NB-Uitgewers), mnr. Paul Colditz (FEDSAS se uitvoerende hoof), mnr. Henry Botha (adjunk-provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap), mnr. Graham Bam (provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap) en mnr. Lewellin Brown (adjunk-provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap).
 
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1900 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid