Artikel

FEDSAS lê klag by Mensregtekommissie, Openbare Beskermer oor Vrystaat-onderwysdepartement se wanbetaling

19/01/2018 - Fedsas


Indien onderwys ’n kind se basiese reg is, is dit ’n demokratiese plig om op te tree wanneer hierdie reg geskend word. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) gaan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie dus môre vra (Vrydag, 19 Januarie 2018) om ondersoek in te stel na die Vrystaatse onderwysdepartement se herhaalde versuim om openbare skole se jaarlikse oordraggeld te betaal. Bykomend het FEDSAS sy prokureur opgedrag gegee om ’n aanmaning aan die Vrystaatse onderwysdepartement te stuur om te eis dat die gelde binne twee weke oorbetaal moet word. Alternatiewelik sal FEDSAS die hooggeregshof nader.
           
“Elke jaar - sonder uitsondering - begin Vrystaatse skole die nuwe skooljaar sonder geld vir bedryfsuitgawes soos water, elektrisiteit en skryfbehoeftes. Provinsiale onderwysdepartemente is verantwoordelik om twee keer per jaar geld van die Nasionale Tesourie aan skole te betaal, maar dit gebeur egter nie in die Vrystaat nie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê veral sogenaamde geen-fooi-skole se voortbestaan is direk aan hierdie oorbetalings gekoppel.
           
“Bykomend vertraag die departement ook die aanstelling van talle skoolhoofde en posvlak 1-onderwysers. Ten spyte daarvan dat beheerliggame die aanbevelingsprosesse tydig en korrek afgehandel het, is aanstellings nie gemaak nie en het talle skole in die Vrystaat heropen sonder permanente skoolhoofde of genoeg onderwysers.
           
“Die Vrystaatse onderwysdepartement het groot feesgevier oor dié provinsie se matrieks se uitstekende prestasie. Die departement se aandeel in hierdie sukses is egter minder bitter klein. In die meeste gevalle laat amptenare kinders in openbare skole in die steek deur hulle te ontneem van selfs die mees basiese benodigdhede soos drinkwater, toiletgeriewe en klasonderwysers.”
           
FEDSAS probeer al jare om die saak direk met die departement aan te spreek en op te los. “Al ons oproepe tot samewerking val egter op dowe ore. Skole moet dikwels die bietjie geld tot hul beskikking vir regskoste aanwend om te probeer om hul geld uit die departement te kry. Daarom het FEDSAS besluit om namens ouers en leerders in die Vrystaat die Menseregtekommissie te vra om hierdie aangeleentheid te ondersoek.

“Terselfdertyd sal die Openbare Beskermer ook genader word om antwoorde te probeer kry oor hoekom die provinsiale departement telkens versuim om geld van die Nasionale Tesourie aan skole te betaal. Die geld behoort nie aan die departement nie – sy enigste rol hierin is om die geld aan skole te betaal. Die vraag is dus waar is hierdie geld?”

FEDSAS sal op Vrydag, 19 Januarie 2018, om 11:00 dokumente by die kantore van die Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer in Bloemfontein indien.

“In Maart vanjaar vind die driejaarlikse verkiesing van lede van skoolbeheerliggame plaas. Met die kwalik bedekte pogings om in te meng met ouers se reg om besluite oor hul kinders se opvoeding deur middel van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys en herhaalde wanadministrasie op provinsiale vlak, is dit duidelik dat skoolgemeenskappe meer betrokke moet raak by die beheer en bestuur van skole indien ons wil vermy dat staatsbeheerde skole weer aan die orde van die dag raak. Dit is tyd vir ouers en ander rolspelers om hul stem dik te maak.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid