Artikel

FEDSAS belê in kundige beheerliggame en positiewe burgerskap met meer as 140 opleidingsgeleenthede landwyd en die #LekkeAnders-veldtog

06/05/2019 - Fedsas


Dit is ’n jaar sedert verlede jaar se skoolbeheerliggaamverkiesing en nuwe beheerliggame het reeds heelwat ondervinding opgedoen. Die opleidingspan van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het verlede jaar ná die verkiesing met opleiding in al nege provinsies begin om nuwe beheerliggaamlede toe te rus vir die taak.

“Die onderwysomgewing in Suid-Afrika verander egter voortdurend en dit is belangrik vir besluitnemers en rolspelers om op die voorpunt van die nuutste verwikkelinge te bly. FEDSAS ontwikkel gereeld nuwe opleidingsprogramme om in hierdie behoefte te voorsien. Vanjaar se onderwerpe is gekies aan die hand van navrae van lede en kwessies wat die meeste beheerliggame raak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.
           
Deacon sê FEDSAS bied sowat 140 opleidingsessies en brandpuntvergaderings landwyd aan. “Baie van ons sessies is aanlyn beskikbaar, wat dit meer toeganklik maak. Die sessies word in verskillende tale aangebied en word behartig deur dieselfde span kundiges wat verlede jaar se beheerliggaamopleiding aangebied het.”

Die brandpuntvergaderings is gratis vir FEDSAS-lede. Die fokus van die brandpuntvergaderings, asook die webinars, konferensies en seminare sluit in onderwerpe soos Wat maak ’n skoolbeheerliggaam puik, Leerderdissipline, Finansiële bestuur en Menslike hulpbronbestuur.

“Hoewel die sessies hoofsaaklik op beheerliggame gefokus is, kan opvoeders wat dit bywoon VPOO-punte (Voortgesette Professionele Opvoeder-ontwikkeling) van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders verdien deur bywoning,” sê Deacon.

Deacon sê FEDSAS se uitgangspunt is dat ’n deeglike opgeleide beheerliggaam se invloed deursyfer na die hele skoolgemeenskap. “Nie net baat die skool by goeie besluitneming en leierskap nie, maar uiteindelik strek dit ook tot voordeel van die breër samelewing. ’n Skool wat goed bestuur word, dien ook as model vir leerders wanneer hulle tot die samelewing toetree om leierskapsposisies te betree.”

“Om leerders verder te betrek, is FEDSAS se tema vir 2019 die ‘Vier van Diversiteit’. ’n Sosiale media-veldtog met die hutsmerke #LekkeAnders en #LekkeDifferent bied aan skole en leerders die geleentheid om lekker pryse te wen vir kreatiewe idees oor hoe om diversiteit te vier.”

Deacon sê diversiteit en veral probleme rondom die onderwerp in skole word dikwels deur middel van reëls en regulasies bestuur. “Ons wil leerders aanmoedig om die lekker van diversiteit te geniet eerder as dat dit ’n geforseerde projek is. As ons almal aan die gesels kan kry oor wat ons uniek maak en wat ons saamsnoer, sal diversiteit uiteindelik die positiewe krag wees wat dit veronderstel is om te wees.”
 
* Volg die #LekkeAnders-veldtog op Facebook, Twitter en Instagram.
* Sien die aangehegte dokument vir ’n volledige lys opleidingsgeleenthede in al nege provinsies.
 
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)
 
 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid