Artikel

FEDSAS na hooggeregshof oor geld wat aan Vrystaatse skole geskuld word

28/03/2018 - Fedsas


Nadat alle versoeke vir betaling van die jaarlikse oordraggeld op dowe ore geval het, gaan die hulp van die hooggeregshof nou ingeroep word om die Vrystaatse onderwysdepartement te dwing om sy werk te doen.
           
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie én die Openbare Beskermer in Januarie vanjaar gevra om ondersoek in te stel na die Vrystaatse onderwysdepartement se herhaalde versuim om hierdie jaarlikse oordraggeld aan skole te betaal. Bykomend het FEDSAS sy prokureur opgedrag gegee om ’n aanmaning aan die Vrystaatse onderwysdepartement te stuur om te eis dat die gelde binne twee weke oorbetaal moet word.
           
“Dit is nou twee maande later en die departement het steeds nie verlede jaar se oordraggelde betaal nie. Boonop vertraag die departement ook die aanstelling van talle posvlak 1-onderwysers,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê hofstukke is gister (27 Maart 2018) ingedien. FEDSAS en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) nader die hooggeregshof gesamentlik om die geld te kry en aanstellings by skole gemaak te kry.
           
“Die tweede kwartaal begin binnekort. Skole het reeds die nuwe skooljaar sonder geld vir bedryfsuitgawes soos water, elektrisiteit en skryfbehoeftes begin. Beheerliggame doen wat hulle kan, maar in baie gevalle hoop skole se skuld op omdat rekeninge nie betaal kan word nie.”
           
Provinsiale onderwysdepartemente is verantwoordelik om twee keer per jaar geld van die Nasionale Tesourie aan skole te betaal. “Hierdie geld behoort nie aan die provinsiale onderwysdepartement nie – die departement moet dit bloot aan skole oorbetaal. Die eerste oorbetaling van 2018 moet in Mei vanjaar gemaak word, maar 2017 se geld is nog uitstaande. Wat het die Vrystaatse onderwysdepartement met hierdie geld gemaak?” vra Deacon.
           
Wat talle aanstellings by skole betref, het beheerliggame die aanbevelingsprosesse tydig en korrek afgehandel. “Die aanstellings moes betyds vir die nuwe skooljaar gemaak gewees het. Die eerste kwartaal is egter nou reeds verby en talle skole moet steeds oor die weg kom met te min onderwysers en in baie gevalle ook nie ’n skoolhoof nie.”
           
Deacon sê dit is hierdie wanbestuur wat onderwys in Suid-Afrika bedreig. “’n Onderwyser in elke klas, skryfbehoeftes, toiletgeriewe – dít is die soort uitdagings waarmee skole dag ná dag te doen het. Hierdie uitdagings hou nie net ’n bedreiging vir gehalte-onderrig in nie, maar is ’n direkte aanslag op kinders se basiese reg op onderrig.”
           
Mnr. Marius van Rensburg van Horn & van Rensburg Prokureurs tree namens FEDSAS en SAOU op.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid