Artikel

FEDSAS fokus op status van onderwysers met viering van Wêreldonderwysersdag

28/09/2016 - Fedsas


Onderwysers se status in die onmiddellike skoolgemeenskap en ook die breër samelewing is die fokus van vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag. Vanjaar se tema is “Waardeer onderwysers, verhoog hul status”. Die Verenigde Nasies vier die dag internasionaal op 5 Oktober elke jaar. In Suid-Afrika val dié datum egter in die skoolvakansie. Om seker te maak dat onderwysers wél die erkenning kry wat hulle verdien, vier die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) Wêreldonderwysersdag in Suid-Afrika jaarliks op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal. Vanjaar val dié datum op 14 Oktober.

“Een van die belangrike aspekte wat die sukses van onderwys bepaal, is respek. Dit geld vir die hele onderwyssektor, maar is veral belangrik in die klaskamer. Onderwysers wat die respek van leerders geniet, is meer suksesvol omdat leerders in sulke gevalle meer ontvanklik is,” verduidelik dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê veral in die Suid-Afrikaanse konteks is die status van onderwysers in die gemeenskap uiters belangrik. Dit verhoog weer die status van die professie en uiteindelik dra dit by tot die gehalte van die onderrig wat leerders ontvang.

FEDSAS nooi almal – huidige leerders en diegene vir wie die skoolbanke nou al net ’n vae herinnering is – om vanjaar hulde te bring aan ’n geliefde onderwyser of gunsteling-skool. “Enige blyk van waardering is welkom – persoonlike kontak, ’n besoek aan jou ou skool of selfs net ’n staaltjie op sosiale media. Die doelwit is om onderwysers te bedank vir wat hulle doen en ook om te wys watter invloed onderwysers op leerders se toekoms het.”

FEDSAS se Nasionale Kantoor vier die dag vanjaar by die Carel du Toit-sentrum in Bloemfontein en personeel van FEDSAS sal by dié skool wees om ook hul waardering te betoon.

FEDSAS gaan vanjaar ook veral van sosiale media gebruik maak om bewustheid rondom onderwysers en hul status te skep. Mense word aangemoedig om hul waardering te wys deur op FEDSAS se sosiale media-platforms ’n boodskap aan ’n skool of onderwyser te stuur met die hutsmerke #DankieOnnie of #ThanksTeacher

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid