Artikel

FEDSAS-familie diep geraak deur tragedie by lidskool in Vanderbijlpark

01/02/2019 - Fedsas


Die FEDSAS-familie is diep geraak deur die tragedie wat vanoggend by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel  het. Volgens bevestigde berigte is drie leerders dood toe ’n loopbrug by die skool ineengestort het. Talle ander leerders het geringe tot baie ernstige beserings opgedoen.
           
“As ’n ouer raak hierdie geweldige verlies my diep. As ’n onderwyskollega van die personeel en beheerliggaam van die skool sal ons van FEDSAS se kant af alles moontlik doen om ons lid te ondersteun,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Die beheerliggaam van die skool is ’n lid van FEDSAS.

Hoewel ’n ondersoek na die voorval reeds aan die gang is, is dit steeds alle rolspelers se eerste prioriteit om die skoolgemeenskap op emosionele vlak by te staan deur middel van traumaberading. “FEDSAS se hulpbronne en uitgebreide kennis op die gebied van onderwysbestuur is egter tot die beskikking van diegene wat die ondersoek lei, asook vir enige ander behoeftes waarmee ons bystand kan verleen,” sê Colditz.

FEDSAS is ’n hegte familie en elke raadslid, personeellid en ook ander lidskole van FEDSAS hou die Driehoek-skoolgemeenskap in hul gedagtes. Colditz sê dit is egter verblydend om te sien hoe Suid-Afrikaners saam staan in tye van nood. “Almal help waar hulle kan – van die Vanderbijlpark-gemeenskap tot die Gauteng-onderwysdepartement. Dit is in tye soos hierdie dat ’n mens opnuut besef dat ons eerstens mekaar se kollegas en vriende is.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid