Artikel

FEDSAS-kundigheid oor finansiële bestuur by skole nou in boek saamgevat

04/09/2017 - Fedsas


Finansies bly een van openbare skole in Suid-Afrika se grootste uitdagings. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is ? leier op die gebied van skoolbeheer en –bestuur en finansiële bestuur vorm steeds een van die komponente waaroor beheerliggame die meeste by FEDSAS om raad aanklop. Hierdie kundigheid is nou vervat in die nuutste publikasie waarby FEDSAS-personeel betrokke is. Dié boek, Financial Management in Public Schools: A practical guide to legislative compliance, is vandag (Maandag, 04 September 2017) tydens die Internasionale Onderwysregkonferensie bekend gestel.

“Alle skole, ongeag die omgewing, het unieke finansiële uitdagings. Die unieke bestuursmodel van openbare skole soos bepaal deur die Skolewet vereis dat beheerliggame ? fyn balans moet kan handhaaf in terme van die bestuur van ? skool se finansies,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS en besturende redakteur van die boek. Ander FEDSAS-kundiges wat bydraes gelewer het, is die uitvoerende hoof, mnr. Paul Colditz, dr. Jean van Rooyen, FEDSAS-bestuurder in Gauteng, me. Suzaan Mellet, FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste, me. Juané van der Merwe, regsbeampte, dr. Derek Swemmer, uitvoerende hoof van die FEDSAS Instituut vir Skoolbeheer, en mnr. Riaan van der Bergh, FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie.

Deacon sê die doel van die boek is om ? oorsig te bied van die belangrikste wetgewing wat skoolfinansies raak. “Die boek verduidelik die praktiese implikasies en is onontbeerlik vir lede van skoolbeheerliggame, skoolhoofde en skole se finansiële beamptes.” Ook onderwysamptenare kan baat vind by die publikasie en die eerste kopie is daarom aan die direkteur-generaal van die nasionale departement van basiese onderwys, mnr. Mathanzima Mweli, oorhandig.

“Die boek is geskryf deur kenners op die gebied van skoolbestuur en finansies en kan dus ook breër aangewend word deur regspraktisyns, rekenmeesters en ouditeurs wat skole in ? raadgewende hoedanigheid dien,” sê Deacon. Die inhoud dek onder meer aspekte soos die rolspelers in finansiële bestuur, finansiële verslagdoening, begrotings, die bepaling en bestuur van skoolfonds, risiko-bestuur en tegnologie. Financial Management in Public Schools: A practical guide to legislative compliance word uitgegee deur Juta Law.

FOTO: Van links na regs is me. Juané van der Merwe (FEDSAS-regsbeampte), mnr. Riaan van den Bergh (FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie), mnr. Mathanzima Mweli (Direkteur-generaal van Basiese Onderwys), dr. Jaco Deacon (FEDSAS se adjunkhoof), me. Suzaan Mellet (FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste) en dr. Jean van Rooyen (FEDSAS se Gauteng-bestuurder). 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid