Artikel

FEDSAS wens suksesvolle matrikulante geluk, maar maan regering om in te gryp in Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo

12/01/2016 - Fedsas


Saam met hul matrieksertifikaat ontvang die meer as 455 000 matrikulante wat die 2015-eindeksamen suksesvol afgelê het, ook ’n geleentheid op ’n beter toekoms. “Suksesvolle skoolopleiding ontsluit soveel meer geleenthede en ons is saam met hierdie suksesvolle matrieks in die wolke oor hulle wonderlike prestasie,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). FEDSAS dra ook sy gelukwense oor aan die onderwysers, ouers en ander rolspelers wat net so hard soos die leerders gewerk het vir hierdie prestasie.

Hoewel die matriekslaagsyfer met 5% gedaal het (70,7% teenoor 2014 se 75,8%), het sowat 52 000 méér leerders die eksamen geslaag (455 825) as gevolg van die groter getal leerders – byna 800 000 – wat die eksamen afgelê het. “Daar moenie te veel gelees word in die slaagpersentasie nie. Die deurvloeikoers het verbeter, wat ’n sterker aanduiding van vordering en sukses is,” verduidelik Colditz.

Die jaarlikse matriekuitslae is ook ’n barometer van die gehalte van onderrig in die onderskeie provinsies. Colditz het sy kommer uitgespreek oor die gehalte van onderwys in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo. “Sowat 60% van die totale getal matrieks wat die eksamen afgelê het, was in hierdie provinsies geregistreer. Ongelukkig verteenwoordig hierdie drie provinsies ook by verre die swakste uitslae. Dit is ’n duidelike wekroep vir die Minister van Basiese Onderwys om in te gryp. Onderwys in hierdie provinsies word jaar ná jaar gekenmerk deur die een kwessie op die ander – dit is dus geen wonder dat leerders die slagoffers is nie.”

Vir die suksesvolle kandidate is die bal nou in hul hande, maar dit beteken nie daar rus nie ook hier ’n verantwoordelikheid op die regering en die samelewing nie. “Daar is nou sowat 450 000 nuwe matrikulante wat gereed is om die arbeidsmark te betree. Om jou skoolloopbaan suksesvol te voltooi, is geen geringe prestasie nie. Van hierdie jong mense doen dit onder uiters moeilike omstandighede, wat dus spreek tot hul karakter en die bydrae wat hulle tot enige werksmag kan maak. Werkskepping is onder meer een van die aspekte waarop die regering moet fokus.”

Intussen het FEDSAS reeds skouer aan die wiel gesit om te help om die klas van 2016 by te staan om seker te maak hulle het die beste moontlike kans op gehalte-onderrig en die suksesvolle voltooiing van hul skoolloopbaan.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid