Artikel

FEDSAS vra Gauteng-onderwysdepartement om dringend ondersoek in te stel na die integriteit van die aanlyn-aansoekplatform vir skole

22/05/2019 - Fedsas


Hoewel bepaalde fundamentele stelselprobleme van die Gauteng-onderwysdepartement se e-platform vir skoolaansoeke op aandrang van FEDSAS aangespreek is, lewer die stelsel in geheel nie die beloofde en gewenste resultate nie. FEDSAS het op 10 Mei spesifieke probleme met die platform rakende stelsellogika en gebruikersinteraksie onder die departement se aandag gebring.
           
“Ons was ook betrokke by ? toetslopie nadat die departement hierdie spesifieke tegniese aspekte aangespreek het. In hierdie verband was daar positiewe resultate en daar is waardering vir die departement se bereidwilligheid om te reageer nadat hierdie kwessies geopper is. Terwyl ons tevrede is met hoe FEDSAS se spesifieke versoeke hanteer is, is dit nou ná twee dae van gebruik duidelik dat die stelsel in geheel nie op standaard is nie,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.
           
Colditz sê een van die kwessies wat nou aan die lig gekom het, is probleme met die integriteit van die stelsel. “FEDSAS het die departement tydens die toetslopie gepols oor onder meer die stelsel se vermoë om groot getalle te hanteer. Hoewel die departement ons die versekering gegee het dat die stelsel 50 000 gebruikers gelyktydig kan hanteer, is die uitslae van hierdie toetse nie met ons gedeel nie aangesien die departement steeds die eienaar van die stelsel is en ten volle daarvoor verantwoordelik bly. Sekuriteitsaspekte rakende die stelsel is ook met die departement bespreek.”
           
FEDSAS het vandag (Woensdag, 22 Mei 2019) dringende kommunikasie aan die departement gestuur om navraag te doen oor sekuriteitsprobleme met die stelsel in reaksie op berigte dat ? enkele aansoek glo herhaaldelik op verskillende skole se lyste kan reflekteer. “Hierdie wesenlike aantal dupliserings is ingesluit in die oorspronklike resultate en statistieke wat deur die departement gekommunikeer word. Dit skep ? wanindruk van die funksionering van die stelsel,” sê Colditz.
           
Colditz sê FEDSAS het van die begin af die standpunt gehuldig dat, indien die stelsel nie werk soos beloof nie, die organisasie sy volle regte voorbehou om op te tree om die belange van sy lede te beskerm. “Ons deel die departement se siening dat sommige van die huidige foute, hoewel onnodig, moontlik met programmering reggestel kan word. Ons is egter bekommerd oor die integriteit van die stelsel gegewe sekere statistieke wat gepubliseer word en hoe druk op die stelsel daartoe gelei het dat sekere funksies nie gewerk het nie.”
           
Colditz sê FEDSAS het die departement versoek om dringend uitsluitsel te gee oor nuwe kwessies wat aan die lig gekom het. “FEDSAS is gewillig om sy volle samewerking te gee, maar indien die departement nie die stelsel in geheel kan waarborg nie, sal FEDSAS sy lede moet inlig dat die organisasie nie langer die proses in sy huidige formaat steun nie. Uiteindelik gaan dit nie oor die gebruik van tegnologie nie, maar oor die korrekte implementering van die bepalings van die Grondwet. Hieroor is FEDSAS nie oop vir onderhandeling nie en die organisasie sal optree om seker te maak dat daar aan alle wetlike vereistes voldoen word.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid