Artikel

FEDSAS, Gauteng Onderwys-LUR verbind tot samewerking tot voordeel van onderwys in provinsie

09/12/2018 - Fedsas



Die identifisering van gedeelde grond vir samewerking is die positiewe uitkoms van ’n vergadering tussen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) en Gauteng se LUR vir Onderwys, mnr. Panyaza Lesufi. Die vergadering het op Vrydag, 7 Desember 2018, in Johannesburg plaasgevind.
 
“Ons het verskeie aspekte verwant aan onderwys in Gauteng bespreek en albei partye het die geleentheid gehad om hul verwagtinge rakende onderwys in die provinsie uiteen te sit,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Colditz sê FEDSAS en die LUR het hul verbintenis tot oop, direkte kommunikasie bevestig ten einde samewerking te verbeter.
 
“Uiteindelik het FEDSAS en die LUR se kantoor dieselfde doelwit, naamlik gehalte-onderrig in openbare skole. Ons het ooreengekom dat dit altyd die maatstaf sal wees waaraan elke bespreking of besluit moet voldoen. ’n Uitkoms van die vergadering is dat ons nou gedeelde grond het waarop ons ons gesamentlike hulpbronne en kundigheid kan fokus.”
 
Lesufi was enersyds tevrede met die uitkoms van die vergadering. “Ons het altyd waardering vir ’n konstruktiewe wyse om onderwyskwessies op te los. Dit is binne hierdie konteks dat ek FEDSAS werklik wil bedank vir hierdie openlike en robuuste gesprek.”
 
FEDSAS was nog altyd verbind tot samewerking tussen rolspelers as die enigste oplossing vir die talle probleme wat onderwys in Suid-Afrika in die gesig staar. “Van ouers in skoolgemeenskappe tot by die Minister van Basiese Onderwys moet ons saamwerk om ons kinders se toegang tot gehalte-onderrig te verbeter. ’n Kombinasie van die verskeidenheid vaardighede van al die onderskeie rolspelers is die enigste wyse waarop ons ’n geloofwaardige en suksesvolle onderwysstelsel sal kan vestig,” sê Colditz.
 
FEDSAS se ervaring en kundigheid ten opsigte van skoolbeheer en –bestuur en die onderwysreg is ’n waardevolle hulpbron wat die organisasie gewillig is om te deel tot voordeel van onderwys. “Onderwysdepartemente het weer toegang tot hulpbronne en netwerke wat met dié van FEDSAS gekombineer kan word. Hierdie soort samewerking sal nie net dienslewering in onderwys verbeter nie, maar sal ook ’n voorbeeld stel van hoe die Staat en die burgerlike samelewing kan saamwerk.”
 
Colditz het die hoop uitgespreek dat hierdie vergadering nie net ’n vaste grondslag vir samewerking in Gauteng sal skep nie, maar dat dit ook uitgebrei sal word na ander provinsies.
 
Foto FEDSAS_MEC: Van links na regs is: Mnr. Edward Mosue (Gauteng-onderwyshoof), dr. Jaco Deacon (FEDSAS se adjunkhoof), mnr. Panyaza Lesufi (Gauteng Onderwys-LUR), mnr. Paul Colditz (FEDSAS se uitvoerende hoof), me. Alisson Benston (Gauteng-onderwysdepartement), dr. Jean van Rooyen (FEDSAS se provinsiale bestuurder in Gauteng) en mnr. Albert Chané (Gauteng-onderwysdepartement).

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid