Artikel

FEDSAS Adjunk-uitvoerende Hoof se nuutste boek gemik op bestuur van menslikehulpbronne in openbare skole

25/02/2019 - Fedsas


Skoolhoofde werk met drie verskillende stelle wetgewing om die verskillende personeellede by ? skool te bestuur. Dít alleen is ? aanduiding van die belangrikheid van menslikehulpbronbestuur as deel van skoolbestuur. Die boek Menslikehulpbronbestuur in openbare skole: ? Praktiese handleiding is daarop gemik om leiding te gee oor die belangrikste aspekte van menslikehulpbronbestuur in openbare skole.
           
“Die bestuur van ’n skool in al sy fasette is ’n reusetaak, en indien sake in die personeelkamer skeefloop, is daar ’n sterk moontlikheid dat die instelling een van die tragiese statistieke oor wanfunksionele skole kan word,” sê die outeur van die boek, dr. Jaco Deacon, ook adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Deacon sê ? skool se personeel is waarskynlik die belangrikste skakel in die onderwysketting. “Die McKinsey-verslag oor wêreldonderwysstelsels het getoon dat ’n onderwysstelsel in ’n betreklik kort tydperk omgekeer kan word indien ? skool die beste onderwysers aanstel en hulle ontwikkel om doeltreffend klas te gee. Daarmee saam moet die nodige stelsels en ondersteuning daar wees om te sorg dat elke kind baat vind by hierdie doeltreffende onderrig.”
             
Die boek is bedoel as ? praktiese handleiding vir beheerliggaamlede, skoolhoofde en personeelbeamptes by skole, hoewel dit ook gerig is op onderwysamptenare, regspraktisyns, rekenmeesters en ouditeure wat skole moet adviseer. Dit word uitgee deur Juta Law en is beskikbaar in Afrikaans en Engels.

Deacon is ? kenner van onderwysreg en ook die outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings en samesteller van Sakpaswette: Skoolbeheer en die reg. Hy is tans president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (SAVO), raadslid van die Interuniversiteitsentrum vir Onderwysreg en Onderwysbeleid (CELP) en lid van die Advisory Board of World Education Congress.

Die boek is Vrydag (22 Februarie 2019) in Bloemfontein bekend gestel tydens die eerste dag van Solidariteit Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) se onderwyskongres. Dit is vanjaar die eerste keer dat die SOS die kongres in die Vrystaat aanbied en die tema is Ons Skep Hoop, waarmee die fokus geplaas word op die blink toekoms van Afrikaanse skole en onderrig in Afrikaans.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid