Artikel

FEDSAS-adjunkhoof ontvang internasionale toekenning vir leierskap in onderwys

24/11/2017 - Fedsas


Een van Suid-Afrika se voorste onderwysregkenners is met die Wêreldonderwyskongres (World Education Congress, WEC) se voorste toekenning vereer. Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), het die WEC se toekenning vir onderwysleierskap gister (Donderdag, 23 November 2017) in Indië ontvang.

Drie ander Suid-Afrikaners is ook op die kongres vereer. Mnr. Frans Kalp van die Ligbron Akademie het ’n toekenning ontvang vir uitnemendheid in e-leer en innovasie, me. Phuti Ragophla van die Pula Madibogo Primêre Skool is vereer vir opvoeding in landelike gebiede en me. Ronelle Klinck van die Thandulwazi Maths and Science Academy het die Edutech-leierskapstoekenning ontvang.
           
Die wenners word aangewys deur ’n internasionale span onderwyskundiges. Die kongres bring onderwysrolspelers van oor die wêreld heen byeen om uitdagings in onderwys te bespreek en oplossings te vind. Vanjaar se tema is die ontwikkelende en veranderende tendense in onderwys, met ’n fokus op moderne en tradisionele kennisstelsels.

Deacon se referaat op die kongres fokus op hoe dapper leierskap in onderwys die wêreld kan verander. “Die toekenning is vir my ’n groot eer, maar veel belangriker is die erkenning wat só ’n toekenning deur ’n internasionale liggaam gee aan die werk wat FEDSAS doen. Suid-Afrika het ’n behoefte aan leierskap, veral in onderwys, want hier het leiers nie net ’n verantwoordelikheid om te lei nie, maar ook om aan kinders te wys wat ware leierskap behels,” sê Deacon.
           
“Jaco is een van daardie visioenêre mense wat oplossings kan vind en daarmee saam ook ander kan inspireer om daardie oplossings te implementeer. Sy kundigheid oor die Suid-Afrikaanse onderwysreg is nie net ’n bate vir FEDSAS nie, maar vir almal wat gehalte-onderwys in Suid-Afrika as doelwit nastreef,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.
           
Deacon is onder meer die outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings, redakteur van die boeke Financial Management in Public Schools: A practical guide to legislative compliance, Case Law Handbook on Education en die Juta Education Law and Policy Handbook. Deacon is ook die president van die Suid-Afrikaanse Onderwysregvereniging (SAELA) en in hierdie hoedanigheid gebruik hy ook sy besoek aan Indië om die vereniging se netwerk te vergroot en internasionale deelname aan die Suid-Afrikaanse konferensie uit te brei.

FOTO: Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS, by die Wêreldonderwyskongres in Indië, waar hy met die onderwysleierskapstoekenning vereer is.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid