Artikel

Onderwys in Limpopo onder groot druk weens provinsiale departement se onwettige optrede, sê FEDSAS

04/08/2019 - Fedsas


Magsvergrype deur die provinsiale onderwysdepartement in Limpopo stuur af op ? onderwysramp in dié provinsie. Onwettige optrede rakende aanstellings kos skole baie geld en groot tekorte aan personeel beteken dat gehalte-onderrig in die slag bly.
           
“Die Limpopo-onderwysdepartement tree op asof daar geen wetgewing in die provinsie is nie en vertrap opvoeders, skole en beheerliggame se regte,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Deacon sê FEDSAS ontvang klagtes oor poste wat in sommige gevalle al sedert 2011 nie gevul word nie. “Daar is skoolhoofposte wat al langer as twee jaar vakant is en wat in 2017 laas geadverteer is.”
           
Die departement ignoreer bloot regulasies rondom aanstellings wat deur die Minister van Basiese Onderwys afgekondig is en wat die hele aanstellingsproses reguleer. Deacon sê ingevolge die regulasies moet poste geadverteer word aan die hand van ’n skool se behoeftes. ? Siftingsproses vind by die departement plaas, waarna ? kortlys opgestel en onderhoude deur die beheerliggaam hanteer word. Die beheerliggaam maak dan ? aanbeveling aan die onderwyshoof.
           
“In Limpopo laat weet die departement eenvoudig aan skoolhoofde en beheerliggaamvoorsitters dat hulle op ? bepaalde datum by die departement moet wees. Daar word dan van hulle verwag om bloot dokumentasie te onderteken sodat die departement opvoeders by skole kan ‘plaas’. Waar FEDSAS-lede weier om aan die onwettige proses deel te neem, word hulle gedreig. As werknemers van die departement word skoolhoofde onder druk geplaas om die dokumente te onderteken.”
           
Deacon sê dit lyk of die leierskap in Limpopo en selfs die nasionale onderwysdepartement nie die wil het om probleme binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Skolewet, die Wet op Indiensneming van Opvoeders en ander wetlike raamwerke aan te spreek nie.
           
“Dit gaan skole weer derduisende rande kos om onwettige optredes in die howe te beveg. In die meeste gevalle gee howe die beheerliggame gelyk, wat uiteindelik beteken die onwettige optrede van die Limpopo-onderwysdepartement raak die belastingbetaler se sak.”
           
FEDSAS doen ? beroep op Minister Angie Motshekga om dringend in te gryp by die Limpopo-onderwysdepartement ten einde ? ineenstorting van die onderwysstelsel in die provinsie te voorkom.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid