Artikel

Grondwethof sê oor Gauteng se skooltoelatingsbeleid

20/05/2016 - Fedsas


Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se appèl teen ’n uitspraak van die Appèlhof is vanoggend deur die Grondwethof van die hand gewys. Hierdie uitspraak is die uiteinde van ? regsgeding wat reeds in 2013 deur FEDSAS begin is rakende die geldigheid van die Gauteng-onderwysdepartement se omstrede toelatingsregulasies vir openbare skole.

“FEDSAS neem kennis van die Grondwethof se beslissing. Ons is uiteraard teleurgesteld, maar as organisasie is FEDSAS se eerste prioriteit om te hou by en op te tree binne die bepalings van die Grondwet,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. “FEDSAS sal die Grondwethof se uitspraak bestudeer en daarna ons lede dienooreenkomstig adviseer.”

Deacon het opnuut FEDSAS se verbintenis tot gehalte-onderrig in alle openbare skole beklemtoon. “FEDSAS is ’n leier in die Suid-Afrikaanse onderwyssektor. Al ons aksies word gerig deur wat in die beste belang van die kinders van Suid-Afrika is. Ons ervaring van die Grondwethof as beskermer van die Grondwet is dat hierdie instelling ook optree in die beste belang van alle Suid-Afrikaners binne die raamwerk wat deur die Grondwet geskep word. Ons respekteer daarom die Grondwethof se beslissing.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid