Artikel

Bekommerde ouer verkry dringende interdik teen Noord-Kaapse onderwydepartement oor aanstelling van skoolhoof

17/01/2017 - Fedsas


’n Ouer van twee leerders aan die Hoërskool Kakamas in die Noord-Kaap het ’n dringende hofinterdik bekom wat die Noord-Kaapse onderwysdepartement verhoed om ’n onregmatige aanstelling in die pos van skoolhoof by dié skool te maak.

“Hoewel die ouer ’n lid van die skool se beheerliggaam is, het hy die hofaansoek in sy persoonlike hoedanigheid as bekommerde ouer gemaak. ’n Beduidende aantal ander ouers steun egter ook die aansoek,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Die beheerliggaam van die Hoërskool Kakamas is ’n lid van FEDSAS.

Deacon sê die feite van die saak behels onder meer dat die korrekte prosedure nie met die aanstelling van ’n nuwe skoolhoof gevolg is nie. “Die skoolbeheerliggaam het ’n aanbeveling vir ’n nuwe skoolhoof vroeg in 2016 gemaak. Die aanstelling is egter nooit deurgevoer nie en die departement het die pos weer geadverteer sonder dat enige redes vir die besluit gegee is. ’n Ander skoolhoof is toe in November verlede jaar deur die departement aangestel sonder dat die regte prosedures gevolg is en sonder dat die skoolbeheerliggaam ’n formele aanbeveling in hierdie verband gemaak het.”

Deacon sê ouers is veral bekommerd omdat die skoolhoof wat nou deur die departement aangestel is in 2007 deur die einste Noord-Kaapse onderwysdepartement skuldig bevind is aan seksuele wangedrag wat verband hou met die swangerskap van ’n meisie wat in daardie stadium ’n leerder aan die Hoërskool Kakamas was. Die gevolg van die skuldigbevinding was dat die onderwyser se diens deur die onderwysdepartement beëindig is.

In ’n duidelike geval van botsende belange het die huidige distriksdirekteur die betrokke onderwyser in 2007 as vakbondverteenwoordiger bygestaan.

Deacon sê die hooggeregshof in Kimberley het ’n interdik teen die nuwe skoolhoof toegestaan, wat hom onder meer verbied om die skoolterrein van die Hoërskool Kakamas te betree. ’n Kostebevel is ook teen die departement toegestaan en die regter het beveel dat die adjunkhoof moet waarneem as skoolhoof totdat uitspraak gelewer is. Die saak word weer op 23 Maart aangehoor.

Hierdie is ’n voorbeeld van uiterste magsmisbruik waar die belange van die kinders hoegenaamd nie eerste gestel is nie. FEDSAS sal voortgaan om sy lede by te staan om seker te maak dat onderwysdepartemente in hul spoor trap.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid