Artikel

Bloemfontein spog met talle kenners van onderwysreg

03/08/2017 - Fedsas


Een van die hoekstene van ’n goeie onderwysstelsel is bewese kundigheid op die vele gebiede wat deel vorm van die onderwysketting. Een hiervan is ’n grondige kennis van onderwysreg en hier hoef Bloemfontein en die Vrystaat vir niemand terug te staan nie. Die nasionale kantoor van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is in Bloemfontein, wat daartoe bydrae dat van die land se voorste regsbreine op die gebied van onderwysreg in die Rosestad gevind kan word.
           
FEDSAS se invloed op die veld van onderwysreg bring ook mee dat sterk bande met ander regslui in die stad gevorm word. Een hiervan is die lang pad wat FEDSAS stap met mnr. Marius Janse van Rensburg van die Bloemfonteinse prokureursfirma Horn & Van Rensburg. “Marius is in 2003 tot FEDSAS se provinsiale bestuur in die Vrystaat verkies en van 2006 tot 2012 was hy FEDSAS se provinsiale voorsitter in die Vrystaat. Sy invloed in en betrokkenheid by FEDSAS strek egter veel verder. Al drie FEDSAS se regsbeamptes het hul klerkskap onder Marius se mentorskap voltooi,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Al drie is toegelate prokureurs en voltyds betrokke in die onderwysreg. “Marius se regskennis tesame met sy ervaring van onderwysbestuur kan duidelik in hul werk gesien word,” sê Colditz. Me. Ankia Bester, asisstent-provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het ook haar klerkskap by Janse van Rensburg se firma Horn & van Rensburg gedoen.
           
Janse van Rensburg sê hy het eintlik al by onderwys betrokke geraak toe sy vrou, Lente, meer as 30 jaar gelede as laerskoolonderwyser begin werk het. “Sedertdien het my dogter ook as onderwyser begin werk. Hoewel ek as prokureur nie uitsluitlik op onderwysreg fokus nie, is die onderwys maar altyd deel van my lewe!”
           
FEDSAS is wat hom betref die mees gesaghebbende onderwysrolspeler in Suid-Afrika, sê Janse van Rensburg. “Ek dink die organisasie se belangrikste bydrae is die daarstel van interne strukture wat op alle terreine van die onderwys kundig, eties en met gesag ’n bydrae lewer. Hierdie bydrae strek wyer as die diens wat FEDSAS aan sy lede gee. Die Suid-Afrikaanse Skolewet is kompleks. En met respek moet ek sê dat die grootste enkele leemte wat ek deur die jare ervaar het, amptenare op distriksvlak se begrip en toepassing van die Skolewet is. Hier speel FEDSAS ’n kardinale rol, hetsy deur navorsing of deur betrokkenheid by talle rigtinggewende hofsake.”
           
FEDSAS se regsbeamptes is grootliks vir hierdie navorsing en regsadvies verantwoordelik. FEDSAS se adjunkhoof, dr. Jaco Deacon, sê Janse van Rensburg se rol as mentor het ’n groot impak op die sukses van die span. “FEDSAS se span regskenners word landwyd hoog aangeslaan en dien op verskeie onderwysreg-strukture. Marius se aandeel hierin is nie gering nie.” FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste, mev. Suzaan Mellet, stem saam. “Hoewel ek lank gelede al my klerkskap voltooi het, bel ek hom steeds vir raad. Sy geduld en vermoë om te verduidelik maak hom toeganklik. En hy is natuurlik ’n onuitputbare bron van kennis!”
           
FEDSAS se ander regsbeamptes, me. Juané van der Merwe en me. Nicole Jacobs, praat ook met lof van Janse van Rensburg se passie, nie alleen vir die reg en vir onderwys nie, maar ook vir Suid-Afrika. “Sy passie en toewyding maak hom een van die mees sigbare voorstanders van die behoud en beskerming van gehalte-onderwys,” sê Van der Merwe. Jacobs sê een van die indrukwekkendste eienskappe van Janse van Rensburg is dat hy geen kompromieë aangaan wat gehalte van diens en regverdigheid betref nie.
           
Janse van Rensburg sê sover dit hom aangaan, moet alle onderwysrolspelers dieselfde doelwit hê, naamlik om oplossings vir uitdagings te soek. “Ons land het die kundigheid en hulpbronne om ’n uiters suksesvolle onderwysstelsel te hê – nou moet ons net almal saamwerk in die toepassing en uitvoering daarvan.”
           
Toenemend koop skoolbeheerliggame ook in op hierdie doelwit, met FEDSAS se ledetal wat reeds op meer as 2000 openbare skole staan. “Met mense soos Marius en al die duisende lede van skoolbeheerliggame se aktiewe betrokkenheid by die toekoms van ons kinders, kan ons nie anders as om uiteindelik die vrugte van sukses te pluk nie,” sê Colditz.
 
FOTO: Mnr. Marius Janse van Rensburg (middel, agter) van die Bloemfonteinse prokureursfirma Horn & Van Rensburg se betrokkenheid by onderwysbestuur en veral onderwysreg word wyd gerespekteer. Saam met hom is prokureurs wat hul klerkskap onder sy mentorskap voltooi het en tans in die onderwysreg werksaam is. Links agter is mev. Suzaan Mellet, FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste. Voor van links is me. Juané van der Merwe en me. Nicole Jacobs, albei regsbeamptes by FEDSAS. Regs agter is me. Ankia Bester, asisstent-provinsiale sekretaris van die SAOU. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid