Artikel

Vaardighede van 21ste eeu die fokus van die innoverende FEDSAS Sentrum vir Tegnologie

15/10/2018 - Fedsas


Tegnologie in onderwys is nie meer ’n luukse nie. Skole wat nalaat om onderwystegnologie in die klaskamer te inkorporeer, gaan nie net agter raak in terme van onderrig en leer nie, maar hierdie skole sal uiteindelik nie meer gehalte-onderrig aan leerders kan lewer nie.
           
Hierdie realiteit het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) genoop om die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie te vestig om skole by te staan met die integrering van tegnologie. “’n Sleutelbesprekingspunt in onderwys is dat leerders toegerus moet word met die vaardighede van die 21ste eeu aangesien dit is wat verwag word van die werksmag van die toekoms. FEDSAS het lankal reeds die noodsaaklike aard van onderwystegnologie raakgesien en staan lidskole reeds ’n paar jaar al by ten einde seker te maak dat leerders en opvoeders gereed is vir die digitale era,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Die organisasie is die enigste skoolbeheerliggaam-organisasie wat beskik oor ’n portefeulje wat spesifiek fokus op onderwystegnologie en digitale burgerskap.
 
Die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie is verlede week by EduTECH Africa bekend gestel. “Die fokus van die sentrum is om skole by te staan en raad te gee oor die sinvolle implementering van nuwe tegnologie in die onderwysomgewing,” sê mnr. Riaan van der Bergh, FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie.
           
Van der Bergh sê as ’n leier in skoolbeheer en –bestuur is FEDSAS perfek geposisioneer om skole met digitale burgerskap by te staan. “Hierdie innoverende program sal skole help met die integrasie van nuwe tegnologie in die klaskamer, op kampus of as deel van skooladministrasie. Papierlose kommunikasie, kontantlose omgewings, toegang tot aanlynbiblioteke, die verrykte aanbieding van lesse en die wêreld van kodering, robotika en die ontwikkeling van toepassings is van die aspekte waarop die sentrum sal kan fokus,” sê Van der Bergh.
           
Die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie sal op ’n aanlynplatform gehuisves word by www.fedsastech.org.za Skole en bedryfsdiensverskaffers word aangemoedig om die platform te besoek, terwyl werksessies en aanlynseminare ook voortgaan.
 
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid