Artikel

‘Vrye onderrig, toegeruste onderwysers’ hoeksteen van onderwys, sê FEDSAS ter viering van Wêreldonderwysersdag

29/09/2017 - Fedsas


Vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag het “Vrye onderrig, toegeruste onderwysers” as tema, met die fokus op die institusionele outonomie en akademiese vryheid van onderwysers. Die Verenigde Nasies vier die dag internasionaal op 5 Oktober elke jaar. In Suid-Afrika val dié datum egter in die skoolvakansie. Om seker te maak dat onderwysers wél die erkenning kry wat hulle verdien, vier die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) Wêreldonderwysersdag in Suid-Afrika jaarliks op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal. Vanjaar val dié datum op 13 Oktober.
           
“Onderrig wat vry en toeganklik is, is die hoeksteen van ’n suksesvolle onderwysstelsel. Hoe meer kinders toegang het tot gehalte-onderrig, hoe beter lyk ’n land se toekoms. Dan, wanneer kinders tot die stelsel toetree, moet hulle in die hande wees van onderwysers wat toegerus is vir die taak, met ander woorde onderwysers wat goed opgelei is en wat hul werk doen binne ’n stelsel wat ontwerp is om hulle te steun,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
FEDSAS se rol in die onderwysketting is om beheerliggame te bemagtig om sodoende by te dra tot gehalte-onderrig. “Wanneer ’n skool goed bestuur word, is onderwysers vry om te fokus op onderrig in die klaskamer. Dit is dus ’n beheerliggaam se plig om toe te sien dat daar deur middel van goeie skoolbeheer en –bestuur ’n omgewing geskep word wat kinders en onderwysers steun in die leerproses. Gebrekkige skoolbestuur hou langtermyngevolge in, nie net vir die spesifieke skool en die onmiddellike skoolgemeenskap nie, maar vir die toekoms van die leerders en die samelewing as geheel. Terselfdertyd is goeie skoolbestuur ’n belegging in die samelewing en in die land se toekoms.”
           
Vryheid gaan hand-aan-hand met verantwoordelikheid. Deacon sê dit is skoolgemeenskappe se plig om toe te sien dat alle onderwysrolspelers, insluitend kinders en onderwysers, nie bloot met die minimum aanvaarbare standaarde tevrede sal wees nie. “Vry verwys ook na die professionele vryheid wat opvoeders moet hê om vakinhoud kreatief te ontwikkel en oor te dra en nie bloot gebonde te wees aan departementele werkboeke of minimum kurrikulum-uitkomste nie.”
           
Personeel van FEDSAS se nasionale kantoor in Bloemfontein vier vanjaar Wêreldonderwysersdag by die Lettie Fouché-skool in die Rosestad. “Ons moedig egter alle Suid-Afrikaners aan om op 13 Oktober hulde te bring aan hul onderwysers, ongeag waar hulle is. As jy naby jou ou skool is, gaan maak ’n draai of stuur ’n boodskap. Mense is ook welkom om staaltjies en herinneringe op FEDSAS se sosiale media-platforms te deel met die hutsmerk #DankieOnnie.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid