Artikel

‘Onderwys – en ons land – het nou sterk leiers nodig,’ sê Rhoda Kadali op FEDSAS se jaarvergadering

22/11/2016 - Fedsas


Doelgerigte leierskap op álle vlakke is noodsaaklik om Suid-Afrikaanse onderwys van ondergang te red.

Dít was die boodskap van die akademikus, politieke kommentator en menseregte-kenner Rhoda Kadalie. Sy was die gasspreker op die algemene jaarvergadering van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) wat onlangs in Bloemfontein plaasgevind het.

Kadalie het dit sonder omhaal van woorde duidelik gemaak dat onderwys in Suid-Afrika, veral op tersiêre vlak, op die rand van die afgrond staan. “Gesaghebbende leierskap is al wat tussen ons en ondergang staan,” sê Kadalie. Met verwysing na wat sy die “ontasbare” elemente van leierskap noem – daardie aspekte wat nie gekwantifiseer kan word nie – het Kadalie voorstelle gemaak vir hoe sulke visioenêre leierskap sal lyk. “Eerstens is waardes en respek nou waardevolle kommoditeite. Ons leiers moet aan ons kinders wys hoe lyk dit eerder as om hulle te vertel.”

Kadalie het groot klem gelê op onderwysers se plig om kinders vir die toekoms te onderrig. “Probeer jou indink hoe hierdie kinders se lewe in 2030 gaan lyk – en rus hulle toe om dán suksesvol te wees. Dit sluit die gebruik van tegnologie in, maar strek veel wyer, met die werklike fokus wat op volhoubare ontwikkeling moet wees.”

Teen die agtergrond van oproepe vir die dekolonisering van hoër onderwys en ook onlangse geskille rondom leerders se voorkoms en die toepassing van skole se gedragskodes het Kadalie gesê Suid-Afrikaners moet leer om hul uniekheid tot voordeel te gebruik. “Ons moet diversiteit aanmoedig. Ons unieke verlede met álles wat daartoe bygedra het, stel ons in staat om met innoverende idees vorendag te kom. Dit is iets wat ons in staat stel om internasionaal kompeterend te wees en die onderwyssektor moet daarop fokus om ons kinders te leer om dit as ’n voordeel aan te wend.”

Kadalie het FEDSAS geloof vir die organisasie se leidende rol in die onderwyssektor. “FEDSAS se werk getuig van innoverende denke. Die organisasie is ideaal geposisioneer om openbare mening te beïnvloed.” Sy het onderwysers ook herinner aan die groot verantwoordelikheid wat op hul skouers rus. “Nou meer as ooit het ons onderwysers nodig wat kan opstaan en lei. Alle rolspelers in die onderwyssektor moet hul posisie en gesag gebruik om te lei sodat ons ons kinders vir die toekoms kan voorberei.”

* Mnr. Erhard Wolf is tydens die jaarvergadering as Nasionale Voorsitter van FEDSAS herkies. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid