Artikel

Laat jou stem hoor in hierdie waterskeidingsjaar vir SA onderwys, sê FEDSAS

24/01/2024 - Fedsas


Vanjaar is dit maak of breek vir onderwys in Suid-Afrika. Die omstrede BELA-wetgewing – die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys – is in ’n gevorderde stadium. Dit bevat talle veranderinge wat skoolgemeenskappe gaan stroop van hul sê in hoe openbare skole bestuur word. Die algemene verkiesing later vanjaar sal ’n groot invloed hê op die beleidsrigting vir onderwys vir minstens die volgende vyf jaar. Derduisende skole word jare al in die gesig gestaar deur groot uitdagings soos ’n gebrek aan geld, gebrekkige infrastruktuur, ’n tekort aan opvoeders of onbevoegde opvoeders, swak skoolbestuur, die lys gaan aan.

         

“Die silwer rand rondom hierdie baie donker wolk is dat ouers en skoolgemeenskappe ook vanjaar verskeie geleenthede het om ’n koersverandering mee te bring en volle eienaarskap van skole te vat,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole. FEDSAS het vandag in Pretoria die organisasie se programme vir die skoolbeheerliggaamverkiesings bekend gestel, met nog ’n bekendstelling môre (25 Januarie 2024) in Kaapstad.

          

Die sperdatum vir openbare kommentaar op die BELA-wetgewing is uitgestel tot die einde van Januarie vanjaar. “Skoolgemeenskappe moet van die oorblywende geleenthede gebruik maak om kommentaar te lewer om seker te maak dat alle menings op rekord is. FEDSAS het reeds ’n gerekende regspan aangestel vir ’n moontlike hofgeding om die grondwetlikheid van BELA te toets sou dit wet word.”

          

Dan is dit vanjaar ook weer tyd vir skoolbeheerliggaamverkiesings, wat elke drie jaar plaasvind. Naas die algemene en plaaslike regeringsverkiesings is die SBL-verkiesings die derde grootste verkiesing in die land. Die SBL-verkiesings vind landwyd in Maart vanjaar plaas. Meer as 250 000 SBL-lede moet verkies word by die land se 22 511 openbare skole. 


“Openbare skole is ’n gemeenskapsbate en die skoolbeheerliggaam beheer en bestuur hierdie bate namens die gemeenskap. Dit is uiters belangrik dat ouers en die gemeenskap verstaan dat daar geen staatskole in Suid-Afrika is nie. Die Suid-Afrikaanse Skolewet maak voorsiening vir openbare skole met beheerliggame uit die skool se onmiddellike gemeenskap wat verantwoordelikheid neem vir die beheer en bestuur van die skool.”

          

FEDSAS doen ’n beroep op gemeenskappe om goeie kandidate vir skoolbeheerliggame te identifiseer. “Mense met ’n liefde vir ons kinders, ons skole en ons land moet as kandidate staan. En ouers en voogde moet in hul massas deelneem aan die verkiesings. Vir ’n verkiesing om wettig te wees, moet minstens 15% van die ouers van ’n skool stem. Maar hoe meer ouers stem, hoe sterker is die beheerliggaam se mandaat om te sê die skool is ’n bate vir die gemeenskap en die staat sal nie toegelaat word om hierdie magte weg te neem nie.”

          

Ná afloop van die SBL-verkiesings is dit noodsaaklik dat beheerliggaamlede deeglike opleiding ontvang. “FEDSAS is die leier in skoolbeheer en -bestuur met bewese ervaring om beheerliggame op te lei en toe te rus. Die organisasie bied toegang tot uitgebreide hulpbronne, regsmenings en -dokumente en opleiding oor alle aspekte van ’n beheerliggaam se werk.”

         

Later vanjaar sal daar met die algemene verkiesing ook ’n geleentheid wees vir skoolgemeenskappe om hul stem uit te bring vir verandering in onderwys. “Terwyl die SBL-verkiesing aan ouers direkte inspraak by ’n skool gee, bied die algemene verkiesing die geleentheid om verandering op beleidsvlak mee te bring.”

          

“As verantwoordelike ouers, voogde en Suid-Afrikaners is dit almal se plig om deel te neem aan hierdie verkiesings. Dit is maklik om net te kla oor al die probleme in die onderwys maar vanjaar is daar volop geleenthede om die daad by die woord te voeg en régtig ’n verskil te maak,” sê Deacon.

FEDSAS se veldtog is vandag bekend gestel met die slagspreuk Jou gemeenskap, jou skool – stem! Skole en organisasies wat betrokke wil raak by die verkiesing kry toegang tot bemarkingshulpmiddels en video-boodskappe van verskillende Suid-Afrikaners en kan ook inskakel by FEDSAS se sosiale media-veldtog met die hutsmerk #SkoolVerkiesings2024. Prof. Thuli Mandonsela en die sanger Jo Black is die eerste bekendes wat ouers die week aanmoedig om betrokke te raak.

          

FEDSAS sal, soos in die afgelope drie dekades, daar wees om die organisasie se ervaring, kundigheid en hulpbronne beskikbaar te stel sodat gehalte-onderrig ’n werklikheid vir alle kinders word. 


Vir meer inligting oor die SBL-verkiesing asook FEDSAS se opleidingsprogramme en ander hulpbronne, besoek www.fedsas.org.za


FOTO: By FEDSAS se bekendstelling van die skoolbeheerliggaamverkiesings is, van links na regs, mnr. James Ndlebe van die Departement van Basiese Onderwys, me. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS, en dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid