U is nie ingeteken nie  [Teken in]  [Doen aansoek]

Mediaverklarings

 Terug
’n Lelike dag wanneer openbare skole weer staatskole word
02/11/2017 - FEDSAS
Gedink jy as ouer het die reg om te besluit oor jou kind se onderrig? Nie as die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n werklikheid word nie. Jaco Deacon, onderwysregspesialis en adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê as gewone Suid-Afrikaners nou hul demokratiese plig versuim, pak donker wolke saam op die horison.

Staatsbeheer wat teen demokrasie indruis ‒ dít is die kenmerk van die genoemde wysigingswetsontwerp wat op 13 Oktober vanjaar deur die Minister van Basiese Onderwys vir kommentaar afgekondig is. Die wetsontwerp is onder meer daarop gemik om sekere funksies van skoolbeheerliggame in te perk, insluitend aanbevelings oor sekere aanstellings, toelatings- en taalbeleid, asook bepaalde finansiële funksies.

Suid-Afrika het in ons nuwe grondwetlike bedeling doelbewus wegbeweeg van die model van staatskole. In die geval van ’n staatskoolmodel besluit die staat oor alles en het beheer oor alles. Die Suid-Afrikaanse Skolewet skep egter openbare skole – skole met volle regspersoonlikheid wat deur skoolgemeenskappe beheer en bestuur word deur demokraties verkose lede van beheerliggame. Ons het 23 719 openbare skole met nagenoeg 285 000 beheerliggaamlede wat so belangrik is dat dit in ’n Konstitusionele Hof-uitspraak beskryf is as ’n “baken van voetsoolvlak-demokrasie”.

In Suid-Afrika het elke landsburger ooreenkomstig die Grondwet die reg op basiese onderrig en die staat is hiervoor verantwoordelik. In praktiese terme beteken dit dat die staat vier groot verpligtinge het:

om skole te verskaf
om onderwys te befonds
om toesig te hou oor die gehalte van onderwys
om behoorlik-opgeleide en -gekwalifiseerde opvoeders te voorsien.

Met die inwerkingtreding van die Skolewet en die pligte en verantwoordelikhede wat aan beheerliggame gegee is, het daar nog ’n belangrike kernplig bygekom, naamlik die opleiding van beheerliggame. Hier het provinsiale departemente ’n druipsyfer behaal en weinig is gedoen om voldoende opleiding en ondersteuning aan beheerliggame te gee. Die staat kry helaas ook nie ’n onderskeiding in die nakoming van die eerste vier pligte nie!

Die voorgestelde wysigings neem ons terug na ʼn model waar die staat beheer het oor alles. Dit druis loodreg in teen die beginsels van openbare skole en demokrasie in die algemeen en gaan geensins daartoe bydra om die gehalte van onderwys in die land te verhoog nie. Die teendeel gaan eerder realiseer.

Die wysigings maak direk inbreuk op ouers se inspraak in die onderrig van hul kinders en doen afstand van die sogenaamde vennootskap tussen die staat, opvoeders en ouers in dié verband. Die wysigingswet ignoreer ’n aantal rigtinggewende uitsprake van die Konstitusionele Hof wat juis beheerliggame se magte en bevoegdhede bevestig het en die belangrike rol van beheerliggame beklemtoon het.

Die bekende gesegde “It takes a village to raise a child” lê klem op die rol van die samelewing in die opvoeding van kinders en die feit dat skoolgemeenskappe eienaarskap van skole moet aanvaar. Die staat verkies om geriefshalwe die “village” met ’n amptenaar in ’n kantoor “iewers” te vervang, iemand wat nie die behoeftes en die hartklop van die gemeenskap verstaan nie, wat niks het om te verloor nie en teenoor niemand aanspreeklik gaan wees nie. Iemand wat skoolhoofde soos pionne kan rondskuif en skole in skaakmat gaan sit!

Een van die bepalings klink baie edel: om tronkstraf van ses maande tot ses jaar te verhoog indien ouers versuim om hul kinders skool toe te stuur. Ek weet ongelukkig nie eens van ’n enkele geval waar die huidige straf van ses maande opgelê is nie. ’n Ander bepaling is dat elke opvoeder sy of haar finansiële belange moet verklaar en dat die gade of lewensmaat van opvoeders dieselfde moet doen ‒ ’n growwe inbreuk op alle nie-opvoeders se reg op privaatheid!

Ek hoop jy sit teen dié tyd kiertsregop, wat hierdie is nie ’n aanslag op skole nie, dit is ’n aanslag op ons hele samelewingsorde. Die staat wil kortpad vat met moeilike uitdagings in skole en in plaas van moue oprol en regmaak wat verkeerd is, eerder poog om 100% van ons kinders in 20% van die land se funksionerende skole in te prop. Dit is voorwaar ’n lelike dag as openbare skole weer staatskole word.

Wie gaan die stem vir ons kinders wees? Skole en beheerliggame gaan kommentaar instuur, maar die stemkrag lê by gewone Suid-Afrikaners wat nou hard en duidelik beswaar moet maak.

Fedsas het reeds ’n veldtog op sosiale media geloods met die hutsmerk #StopSkoleKaping en #StopSchoolCapture. Die publiek het tot 10 November vanjaar om kommentaar lewer en Fedsas moedig alle Suid-Afrikaners aan om kommentaar te lewer. ʼn Afskrif van die wetsontwerp is op Fedsas se webtuiste beskikbaar by www.fedsas.org.za onder die skakel vir “Wat is nuut?”

Hierdie artikel is op LitNet gepubliseer op Donderdag 26 Oktober 2017. Lees dit op LitNet by:
http://www.litnet.co.za/stopskolekaping-n-lelike-dag-wanneer-openbare-skole-weer-staatskole-word/