U is nie ingeteken nie  [Teken in]  [Doen aansoek]

Mediaverklarings

 Terug
Staan saam teen sulke staatskole
02/11/2017 - FEDSAS
Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys het tot groot konsternasie in die onderwyssektor gelei.

Die voorgestelde wysigings is onder meer daarop gemik om sekere funksies van skoolbeheerliggame in te perk, insluitend aanbevelings oor sekere aanstellings, toelatings- en taalbeleid, asook bepaalde finansiële funksies.
Waaroor die bohaai? Indien iets nie werk nie, moet daar tog sekerlik daadwerklik opgetree word, en tans funksioneer net 20% van die land se 23 719 openbare skole goed.

Maar dít is juis waar die groot kopkrap begin – weinig van die 46 klousules in die voorgestelde wet gaan enigsins die werklike probleme in die stelsel aanpak. Inteendeel, dit gaan die handjievol toppresterende skole eenvoudig kelder.

Die aanhef van die Skolewet bepaal: “Hierdie land het ’n behoefte aan ’n nuwe nasionale stelsel vir skole wat die onregte in onderwysvoorsiening van die verlede sal regstel, onderwys van progressief hoë gehalte aan alle leerlinge sal voorsien en op hierdie wyse ’n hegte fondament vir die ontwikkeling van al ons mense se talente en bekwaamhede sal lê, die demokratiese transformasie van die gemeenskap sal bevorder, rassisme en seksisme en alle ander vorms van onregverdige diskriminasie en onverdraagsaamheid sal bekamp, tot die uitwissing van armoede en die ekonomiese welstand van die gemeenskap sal bydra, ons verskeidenheid van kulture en tale sal beskerm en bevorder, die regte van alle leerlinge, ouers en opvoeders sal handhaaf, en hul aanvaarding van verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiering van skole in vennootskap met die Staat sal bevorder.”

Die wysigingswet trek ’n dik rooi streep deur hierdie doel en die model van openbare skole waar gemeenskappe verantwoordelikheid vir skole aanvaar en ouers direkte inspraak in die onderrig van hul kinders het. Die wysigingswet druk ’n verdoeselde model van staatskole op ’n demokratiese samelewing af waar die staat sentraal staan en staatsamptenare op ’n outokratiese wyse die septer swaai.

Die hele manier waarop hierdie wysigingswet nou gestoomroller word dui nie juis op goeder trou, samewerking tussen staat, leerlinge, ouers en opvoeders nie.

Witskrif 1 van 1995 was een van die voorlopers vir die Skolewet, en in die dokument is bepaal dat die eienaarskap van skole teruggegee moet word aan skoolgemeenskappe en dat ouers direkte inspraak in die onderrig van hul kinders moet hê. Skole het regspersoonlikheid ontvang wat deur beheerliggame beheer word, en die meerderheid lede van beheerliggame is ouers.

Met magte kom daar natuurlik verantwoordelikheid, en die Skolewet is so opgestel dat die staat die verantwoordelikheid ontvang het om toe te sien dat beheerliggame behoorlik toegerus word vir hul belangrike taak.
Dit is hier waar die probleem begin, want provinsiale onderwysdepartemente gee nie die nodige of voldoende opleiding of ondersteuning aan beheerliggame nie.

Dit is ’n feit dat baie skole swak beheerliggame het, maar by ’n gebrek aan opleiding en ondersteuning deur die staat het dit ’n baie gerieflike argument vir amptenare en politici geword om skielik alle beheerliggame (lees: ook ouers) se magte te verwater.

Dit is ook so dat bevoegde beheerliggame en goed funksionerende skole ’n doring in die vlees van amptenare en politici is. Beheerliggame wat hul regte ken en in die beste belang van die skool optree, duld nie onregmatige inmenging of die vertrapping van skole se belange nie.

Om die volle sê oor aanstellings van skoolhoofde en ander senior personeel aan amptenare te gee, is om wolf skaapwagter te maak! Ouers weet wat is die behoeftes van die skool en skoolgemeenskap en baie beheerliggame gaan deur baie volledige aanstellingsprosesse om juis die regte leiers aan te beveel.

As ’n amptenaar “iewers in ’n kantoor” moet besluit oor die aanstellings gaan ons meer onrus en onstabiliteit in skole sien. Hofsake gaan meer word, nie minder nie. Provinsiale departemente moet baie meer doen om seker te maak dat elke skool ’n goeie skool is – en dan is taal- en toelatingsbeleid ook nie meer ’n kwessie nie.

Ons hoor gereeld dat onderwys ’n “samelewingsaangeleentheid” is – en dit is so! Die samelewing moet dus nou sy stem laat hoor.

Ons het tyd tot 10 November om kommentaar oor die wysigingswet te lewer. Gewone mense, burgers van die land, pa’s en ma’s, oupas en oumas, word saam met die burgerlike gemeenskap opgeroep om hul mening te lug.
Onthou ook die lesse wat met e-tol geleer is – dit is baie moeilik om ’n besluit te beveg as jy die geleentheid gemis het om insette te lewer voordat die besluit geneem is. As die elektroniese hekke eers opgesit is, kom hulle moeilik en teen groot koste af.

So, waaroor die bohaai? Ons het openbare skole, nie staatskole nie en dit moet so bly. Kinders het die meeste om te verloor as ouers nie meer insae in onderwys het nie. Laat jou stem tel.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) is ’n leidende rolspeler op die gebied van onderwysbeheer en –bestuur en die organisasie se span regskenners is reeds besig om kommentaar oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp te skryf.

Fedsas het ook ’n veldtog op sosiale media begin met die hutswoord #StopSkoleKaping en #StopSchoolCapture om gemeenskappe aan te moedig om hul stem te laat hoor.

Hierdie artikel is gepubliseer in Rapport op Sondag 29 Oktober 2017. Lees dit op Netwerk 24 se webblad: 
https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/staan-saam-teen-sulke-staatskole-20171026