U is nie ingeteken nie  [Teken in]  [Doen aansoek]

Mediaverklarings

 Terug
Uitspraak oor godsdiens in skole bevestig opnuut beheerliggame se gesag in terme van skoolbeheer- en bestuur, sê FEDSAS
29/06/2017 - FEDSAS
Gister se hofuitspraak oor godsdiens in skole is nie net rigtinggewend in terme van beleid nie, maar ook opnuut ’n oproep vir ouers en die breër gemeenskap om betrokke te raak by skole. In wese behoort ’n openbare skool aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Die skool se beheerliggaam is verteenwoordigend van hierdie breër skoolgemeenskap en het volgens die Skolewet die gesag om besluite te neem rakende belangrike aspekte soos ’n skool se taal- en toelatingsbeleid en ook hoe godsdiens by die skool beoefen word.
 
In sy uitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof het regter Willem van der Linde klem gelê op die feit dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ’n bepaalde raamwerk, insluitend die Grondwet en Skolewet. Die kern hiervan is dat ’n bepaalde geloof nie voorgestaan mag word tot uitsluiting van ander nie.
 
“In die hofaansoek het die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie vir altesaam 77 bevele teen ses skole gevra, maar die hof het slegs twee van hierdie bevele toegestaan,” verduidelik mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Die beheerliggame van die ses skole is lid van FEDSAS en FEDSAS het die skole in die hofsaak bygestaan.
 
Colditz sê FEDSAS se standpunt dat beheerliggame self die reëls vir godsdiensbeoefening in hul skole ooreenkomstig die Grondwet en die Skolewet kan bepaal, is gehandhaaf. Die hof het ook saamgestem met FEDSAS se argument dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder ’n belangrike dokument is wat riglyne verskaf oor godsdiens in onderwys.
 
“Die twee bevele wat toegestaan is, beteken in eenvoudige terme dat ʼn openbare skool nie ʼn bepaalde godsdiens of hoofsaaklik een godsdiens kan bevorder ten koste van ander godsdienste nie of homself kan adverteer as ’n skool wat die belange van net een godsdiens bo ander godsdienste bevorder nie.”
 
Soos met soveel soortgelyke hofuitsprake, bv. die Ermelo-hofsaak oor skole se taalbeleid en meer onlangse uitsprake oor die inmenging van die Gauteng-onderwysdepartement in skole se toelatingsbeleid, bekragtig die hof telkens een punt oor en oor: die gesag van skoolbeheerliggame as liggaam wat ’n skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur.
 
“’n Beheerliggaam kan egter net suksesvol wees indien die hele skoolgemeenskap betrokke is. Ouers moet deelneem aan beheerliggaamverkiesings en die beheerliggaam tot verantwoording roep oor besluite wat hul kinders se toekoms beïnvloed,” sê Colditz.
 
Colditz sê gister se hofuitspraak bevestig twee kernbeginsels in FEDSAS se benadering tot skoolbeheer en –bestuur: “Eerstens is die Grondwet die hoogste gesag waaraan besluite gemeet word. En tweedens kan openbare onderwys slegs suksesvol wees as álle rolspelers inkoop. Om die staat te blameer vir alles wat verkeerd loop, is bloot om jou eie verantwoordelikhede op iemand anders af te skuif. Die sukses van skole het ’n invloed op die hele samelewing, ongeag of jy kinders op skool het of nie. Die boodskap is eenvoudig: Raak betrokke by die openbare skool in jou omgewing.”
 
FEDSAS se span regslui is almal gerekende kenners op die gebied van onderwysreg en sal die hofuitspraak op tegniese vlak ontleed om beheerliggame op praktiese wyse by te staan met die implikasies van die hofuitspraak.